top of page

Brei Avontuur - Hoe Om Steke Op Te Sit

  • Writer: The DIY Studio
    The DIY Studio
  • Mar 18
  • 3 min read

Welkom terug by Brei Avontuur! As jy my eerste blog, Welkom by Brei Avontuur, gelees het, behoort jy reeds ‘n goeie idee te hê van die basiese gereedskap wat jy nodig het om te begin brei. Nou dat ons reg is om die eerste steke te maak, gaan ons leer hoe om jou gare en naalde reg te hanteer, asook verskillende metodes om steke op te sit. Hierdie is die eerste stap op jou pad na pragtige gebreide projekte!


Knitting with Yarn

Hoe om die gare en naalde vas te hou

Voor jy kan begin om die steke op te sit, moet ons eers leer hoe om die brei gare en naalde vas te hou.


Daar is verskeie maniere om die gare en naalde vas te hou. Die volgende metode staan algemeen bekend as die Engelse metode:


1. Draai die gare om die pinkie van jou regterhand, agter die middelvingers en oor die wysvinger. Dit beheer die vloei van die gare en help om die regte spanning te behou.


2. Hou die linkerhand-naald met die steke in jou linkerhand, en gebruik jou wysvinger en duim om die steke vorentoe te skuif tot by die punt van die naald om die steke te kan werk.


3. Hou die regterhand-naald soos ‘n potlood, met die naald wat tussen die duim en wysvinger rus. Gebruik die wysvinger om die gare om die naald te draai.


Hoe om die naald vas te hou

Hoe om steke op te sit

Die een-naald-metode is maklik en vinnig, maar dit laat ‘n los rand. Die twee-naald-metode, ook bekend as die kabelmetode, word meer algemeen gebruik omdat dit ‘n netjiese, stewige rand gee.


Steke op sit met een naald


1. Maak ‘n glylus en plaas dit op die naald. Hou die naald met die glylus in jou regterhand. Gebruik die duim en vingers van jou linkerhand om die gare soos aangedui vas te hou.


2. Steek die naald deur die lus, om die duim en trek die lus van die duim af en op die naald.


3. Laat hierdie steek op die naald en trek die punt van die gare stywer. Draai die punt van die gare weer om jou duim en maak gereed om die volgende steek te maak. Gaan op hierdie manier voort totdat die verlangde aantal steke op die naald is.


Steke op sit met twee naalde


1. Maak ‘n glylus en plaas dit op die linkerhand-naald. Trek die lus styf. Steek die punt van die regterhand-naald in die glylus van voor na agter, neem die gare onderdeur en om die punt.


2. Trek die gare deur die glylus om ‘n steek te vorm. Plaas die nuwe steek op die linkerhand-naald.


3. Om die volgende steek te maak, steek die naald van voor na agter tussen die twee steke in. Neem die gare soos voorheen, draai dit om die punt van die regterhand-naald en trek dit deur. Plaas die nuwe steek op die linkerhand-naald. Herhaal stap 3 totdat die verlangde aantal steke op die naald is.


Nou dat jy weet hoe om steke op te sit, is die volgende belangrike stap om jou brei spanning reg te kry. Dit beïnvloed hoe netjies en eenvormig jou breiwerk gaan lyk. As jy dit nog nie gelees het nie, gaan kyk gerus na my blog Brei Spanning, waar ek verduidelik hoe om jou spanning te toets en aan te pas vir die beste resultate. Dit gaan jou help om mooier, meer professionele breiwerk te skep!


Stay tuned vir die volgende gedeelte in die reeks

Brei Avontuur – Hoe om Steke te Brei


Warm Groete

Jess

xoxo

Comments


©2022 by The DIY Studio. Proudly created with Wix.com

bottom of page